Buyselagtighede: Die dag toe ek onwetend PG du Plessis se ballon geprik het

0

Willie Buys

Sien ek nourie anderdag die Siener van die Suburbs se outeur het onlangs verjaar. Hy het die Bybselse waarheid oor die ouderdom – sewentig en as jy sterk is tagtig jaar – kragdadiglik  gestand gedoen  met ‘n gejuig en ‘n gefuif tydens partytjie-feeste wat sy wye vriendekring in die kuns- en letterwêreld hier te lande vir hom ter viering van sy tagtigste verjaardag gereël het.

Ek verwys hier na die gevierde dramaturg P.G. du Plessis wat oor die algemeen as die Wie in die Wie’s Wie van die plaaslike populêre drama en en letterkunde beskou word. Op sy indrukwekkende CV  is onder andere oor die destyds opspraakwekkende genoemde Siener, die monumentale epistle Fees van die Ongenooides, die skitterende TV-reeks Koöperasiestories, ‘n Seder val in Waterkloof en natuurlik die TV-program Spies en Plessie. Die genre waarin  Koöperasiestories val het hy nou voortgesit met ‘n opvolgwerk getitel Pandjieswinkelstories wat tans op die Kyknet TV-kanaal vertoon word. Ook het hy in ‘n stadium van sy veelbewoë lewe sy hand gewaag aan ‘n  rolprentdraaiboek oor die Vaaldriehoekse minnesanger, wyle Bles Bridges wie se treffers Ruiter van die Windjie en Reik na die Sterre en vele ander hom ikoniese status laat bereik het. Soort van ikooon oor ikoon?

Hy en die legendariese dr. Jan Spies (nou ook ook nie meer met ons nie) van Namibië, meesterverteller van humoristiese stories en partykeer tragikomiese gebeure, was ook die programleiers van die uiters gewilde Spies en Plessis-TV-reeks. Hulle het groot genot verskaf saam met ewe legendariese gaste soos wyle Zack du Plessis van Vetkoekpaleis-faam aan ‘n groot deel van die Afrikaanse- en soms ook Engelstalige TV-kykers wat met lagbetraande oë voor die kassie vasgenael gesit het. Dit is onder meer einste Zack wat die sê-ding “Ek wil iets sê, en ek GAAN dit sê…”in die volksmond gevestig het.

Terug na P.G. , soos hy partykeer tot sy groot ergenis in die volksmond bekend gestaan het. Hy het by herhaling beklemtoon dat hy nie sommer almal se hierjy PG is nie, maar as doktor aangespreek moet word omdat hy hard gewerk het om sy graad in die lettere te verwerf. Was hy ernstig? Mens weet nie want hy was en is ‘n fyn waarnemer én satirikus.

Nou, ek het die eer gehad om vir ‘n paar maande saam met  die agbare doktor te werk toe hy as ‘n assistant-redakteur van Die Transvaler onder die mentorskap wyle dr. Willem de Klerk as joernalis  voorberei  is  vir sy latere redakteurskap (Hoofstad) in die Perskorgroep. Ek was toe nuusredakteur van Die Transvaler.

Oor die algemeen was dit ‘n fees om saam met die doktor te werk, maar hy het ook maar soms die geiterige kant van sy karakter blootgestel wanneer hy – soos met die doktor-perspektief –  gemeen het hy kry nie die respek wat hom toekom nie. Want dit is een ding waarvan jy hom nie kon beskuldig nie en dit is dat hy ‘n gebrek aan selfbewondering/-vertroue (ego?) gehad het. (Wens ek was so!)

So was hy per keer  woedend vir my as nuusredakteur omdat ek hom glo te na gekom het en in die oë van sy kollegas verneder het. Dit was tydens die sogenaamde Inligtingskandaal wat toe in sy volle felheid op die koerantvoorbladsye van veral die Sondagpers gewoed het. So het ons op ‘n Sondag – hy as die redakteur en ek as nuusredakteur – gewerk toe die immersensasionele Sunday Times Sondagkoerant met nog ‘n onthulling gekom het oor die geknoei van dr. Connie Mulder, destyds minister van Inligting, en dr. Eschel Rhoodie as direkteur van sy department.

Om ‘n lang storie kort te maak, ek het ‘n telefoonoproep van dr. Mulder gekry met die strekking dat hy en sy twee seuns, drr. Pieter en Corné Mulder, op pad van Potchefstroom was na Die Transvaler se kantore in Doorfontein, Johannesburg,  om volgens dr. Connie die “regte feite” aan die redakteur te kom stel.

Ek het geoordeel dat dr. Du Plessis, knap literator wat hy is en was, toentertyd nog nie genoegsaam geskool was in die fynere (vuile?) kunsies van die politiek nie. Ek het die destydse besturende redakteur van die koerant, Hennie Kotzé, gebel met die dringende versoek dat hy moet inkom en die saak hanteer. So versoek, so gedaan en hy het dit met ervare-bedrewendheid afgehandel.

Die volgende dag het ek in my miernes-bedrywige nuuskantoor bewus geword van ‘n soort ysigheid in die atmosfeer. Met die opkykslag het ek bewus geword van dr. Du Plessis wat soos stalagtiet aan die kosyn van kantoordeur gehang het met ‘n donderweer-uitdrukking op sy gesig. Lang storie kort: Hy het uitgebars in ‘n tirade met die strekking dat ek hom beledig het met my hantering van die saak en dat hy heeltemal in staat was om die Mulders te hanteer.

Nodeloos om te sê het ek by my standpunt gebly. Sonder om blasé te klink meen ek tot vandag toe dat hy hierdeur wel iets geleer het van die binnewerking van ‘n koerant. Ons het vandaar voortgegaan om op goeie voet saam te werk totdat hy ‘n paar maande later die pos as redakteur van Hoofstad opgeneem het.

Kort en kragtig sluit ek af deur by te voeg dat dit soort van ‘n fees van die genooides was om saam met hom te werk weens sy positiewe uitkyk op die lewe.

Geluk ou sjarmeerder!

 

 

Share.

About Author

Leave A Reply